Monday 19 December 2011

Treinryers was 'vijan den van Christendom'


FOTO: S/W HET VERSKYN IS daar iemand wat nie die afdrukke van die ``Breë en die Smalle Weg'' ken nie? Dié ``boerekitsch'', soos W.A. de Klerk dit noem, beeld die steil, moeilike, smal pad na die Paradys uit, en langsaan, die breë, lekker pad na die Verdoemenis. ``Die smal weg is deksels oninteressant,'' sê prof. Bun Booyens. Daar is onder meer 'n weeshuis, 'n Sondagskool, 'n hospitaal en 'n kerk. Tussen die twee paaie is 'n diep afgrond met bruggies. Heelparty mense stap van die oninteressante, smal weg na die breë oor. Dít is 'n lekker pad. Daar is wyn- en dobbeltafels, 'n ``ontughuis'', 'n danssaal, 'n bank van lening (om geld te skuld is mos sonde). Daar is selfs 'n dief wat 'n man se geld uit sy agtersak steel. By die Hel se poort staan, van alle dinge, 'n trein, net voordat die breë pad die Verdoemenis ingaan. Hier slaan 'n duiwel plesierig bollemakiesie. Die oudste Breë en Smal Weg-afdrukke was in Hollands. Later het dit Afrikaans geword, sê prof. Booyens. Die trein verskyn net op die latere Afrikaanse afdrukke. Daardie trein by die Hel se poort het sy oorsprong in die Paarl gehad, nogal by 'n predikant. En baie Paarliete het saam met hul leraar geglo treine is werktuie van die Antichris. Die lokomotief is selfs ``de duivels kruijwagen'' genoem! Dit het by ds. Gottlieb Antony van der Lingen begin. Hy was 'n merkwaardige, geleerde man met 'n sterk persoonlikheid en sterk oordele en vooroordele. Hy het diep spore in die kerk en die Paarl getrap. Die Pinksterdienste het by hom begin en hy was die stigter van die Paarlse Gimnasium. Maar hy het ook eienaardige metodes gevolg om werktuie van die sonde te beveg. Treine wat op Sondae loop, was een hiervan. STEEN DES AANSTOOTS In 1862 was die treinspoor van die Kaap na Wellington in aanbou. Dit was reeds tot by die D'Urbanweg-stasie (vandag Bellville-stasie aan die onderent van Durbanweg) voltooi en die trein het tot hier geloop. Aan die oorblywende deel oor Eersterivier, Stellenbosch en die Paarl tot by Wellington is druk gewoel en gewerk. Die trein het vanselfsprekend ook op Sondae geloop, en dít was 'n steen des aanstoots. Hierdie bose verskynsel het heftige reaksies uitgelok van die Calvinistiese kerkvaders op Stellenbosch én die Paarl. Die Paarlse leraar, ds. Van der Lingen, was die groot aanstigter. Voor die koms van die treinspoor het mense selde die stoep verlaat. Nou het almal trein gery. En watter dag leen hom die beste hiervoor as Sondag? Ds. Van der Lingen het die trein as 'n ontsettende bedreiging vir die rusdag gesien. Hy het 'n groot boikotaksie teen die treindiens aan die gang gesit. Totdat alle Sondagtreine afgeskaf is, moet niemand treinry nie, het hy gesê. Op Stellenbosch is gevra dat gemeentelede moet bid vir die verwydering van die Sondagtreine. In die Paarl, onder leiding van die leraar, is 'n verbondskrif (dit is 'n ``pledge'' genoem) gedateer 22 April 1862 rondgestuur waarin ondertekenaars onderneem om ``van nu af geen gebruik, hoe ook genaamd, zoo min op werkdagen als op Zondagen, zoo min voor onze goederen als voor onze personen, te zullen maken van dat vervoermiddel''. Nogtans het die meeste Paarliete verkies om trein te ry, al was dit net van Bellville na die Kaap. Prof. Hofmeyr van Stellenbosch het op 'n vergadering op Wellington gesê dat ``slechts zeer weinigen gewillig zijn de gemakken en voordeelen op te offeren die de spoorweg aanbiedt. De meesten, verreweg, verlaten de bus bij de spoorwegstatie aan den twaalfden mijlsteen (D'Urbanweg)''. Dit was Bellville. HOM TE BUITE GEGAAN Paarliete het dus met die perdebus (hulle het dit 'n omnibus genoem) tot in Bellville gery. Hier is oorgestap om verder per trein tot in die Kaap te ry. Op 16 Mei 1862 is 'n vergadering in die Paarl gehou waar ds. Van der Lingen hom heeltemal te buite gegaan het. Volgens Het Volksblad ``verloor hij alle gematigdheid zoowel wat den geest als de bewoordingen zijner rede betrof''. Hy noem die treinryers ``vijanden van het Christendom'' en ``verraders''. Hy het gepreek dat die Sondagtreine net nog 'n bewys is dat die profesieë oor die verval in die laaste dae en die komende beproewinge vir die kerk besig is om in vervulling te gaan. Daar is selfs beweer dat hy sou gesê het dat diegene wat met die trein ry, al is dit net op weekdae, reeds die teken van die dier op die voorkop het. Hy het die treindiens ``de gruwel dezer eeuw'' genoem. Het Volksblad skryf verder dat sy uitsprake ``aan het godslasterlijke grensden'' en ``zoo grof waren dat het smartelijk is dat een Christen leeraar zoo van anderen spreken kan. . .'' Nogtans, ``door den verbazenden invloed van dezen (die leraar) werd Paarl de wakkerste bestrijdster van de Zondagtreinen.'' Pogings is aangewend om die eienaars van die busdiens van die Paarl na Kaapstad daarvan te laat afsien om D'Urbanweg aan te doen. Hierin is nie geslaag nie. Onder aanstigting van ds. Van der Lingen het die Paarlse ``pledge''-ondertekenaars hul eie busdiens gestig, die Paarlsche Omnibus Maatschappij. Onenigheid in die direksie van die ou, bestaande busdiens het tot sy ontbinding gelei. Die Spoorweë het dadelik sy eie busdiens tussen die Paarl en ``D'Urbanweg'' ingestel. Ds. Van der Lingen en sy elf mededirekteure se ``omnibusdiens'' was die spot van die nie-boikotters. Dit is die ``pontificale bus'' genoem. Daagliks (behalwe Sondae!) het die omnibus om 7 vm. van die Paarl vertrek en minder as ses uur later op die Kaapse parade aangekom. Op Hardekraaltjie is perde omgeruil. Van die stad af het 'n ander omnibus sy reis na die Paarl begin. HAAR SONDE BELY Deur die ``pontificale bus'' kon aan die ``pledge'' praktiese uitvoereing gegee word. Sowat 250 boere en handelaars het hulself verbind om nie die spoorwegmaatskappy se bus- en treindiens te gebruik nie. Die ``Kaapsche weg'' was vol waens wat wyn en ander produkte vervoer het. Volgens Het Volksblad van 11 September 1862 het heelwat mense wat nogal naby aan die ``paus'' staan, die ``pledge'' verbreek. Een van die ``opgewekten'' wat die ``malle railway pledge'' onderteken en toe tog trein gery het, sou by die biduur haar sonde bely het. Daar is selfs gesê dat die ``paus'' se eie skoonseun trein gery het! Ernstige verdeeldheid het in die Paarl geheers. Die ``dolle onderneming'', soos dit genoem is, die ``pontificale busmaatschappij'', het verliese gely. Direkteure, insluitende die predikant, het baie geld gestort om dit aan die gang te hou. Maar die boikotbeweging het ook die Sondagtreine verliese laat ly. 'n Jaar nadat die trein tussen Kaapstad en Eersterivier begin loop het, is die Sondagtreine afgeskaf. Die nuus is met vreugde in die Paarl ontvang. Het Volksblad skryf: Zij roepen nu hiep, hiep, hiep, hoera, wij hebben het overwonnen.'' 'n Dankdiens is gehou. Ds. Van der Lingen het gesê dit is ``zoo aandoenlijk, zoo plegtig, zoo heerlik''. Die Paarliete kon nou weer van die ``ijzeren paard'' gebruik maak. Op 18 Maart 1863, drie dae nadat die Sondagtreine afgeskaf is, is die spoorweg na die Paarl feestelik geopen. Meer as 5 000 mense het dit bygewoon, in hul Sondagklere uitgedos. Ook ``de groote wagen van den Eerw. Heer van der lingen, met talrijke huisgenooten, de panaten der pastorie en zijne schoonzoons gevuld, was bijzonder zogtbaar in die menigte van rijtuigen'', berig Het Volksblad. Die ``pontificale omnimusdiens'' kon nou afgeskaf word. 'n Vendusie is gehou waarop onder meer twee omnibusse, 36 trekperde, bybehore, en 'n trompet(!) opgeveil is. HEWIGE VERKOUE Twee jaar ná die afskaffing van Sondagtreine het sewehonderd inwoners van Kaapstad, Mowbray en Rondebosch die spoorwegmaatskappy versoek om 'n Sondagtreindiens op die nuwe spoorlyn tussen Kaapstad en Wynberg in te stel. Hulle het gesê dit sou kerkgangers die geleentheid gee om dienste in die stad by te woon. Aan die versoek is voldoen. Sondagtreine het gekom om te bly. Daar was weer proteste, maar ds. Van der Lingen was nou stil. Of hy ooit trein gery het? Inderdaad. In 1866 het hy gedurende 'n treinrit na Stellenbosch so 'n hewige verkoue opgedoen dat hy nie die ringsitting kon bywoon nie. In sy doktorale proefskrif Gottlieb Antony van der Lingen, Kaapse predikant uit die negentiende eeu, waaruit die stof vir hierdie artikel gehaal is, skryf dr. M.C. Kitshoff dat ds. Van der Lingen dit nie as verkeerd beskou het om in Europa die spoorweg te gebruik nie, maar hy het die gebruik daarvan in Suid-Afrika as sonde aangemerk. Hoewel hy die trein 'n instrument van die duiwel en die gruwel van die eeu genoem het, het hy later self trein gery. Miskien het hy ontdek dat dit nie altyd so maklik is om die grens tussen die breë en die smal weg te onderskei nie.

Photo taken at Paarl Museum July 2009 

No comments:

Post a Comment