Tuesday 20 December 2011

Paarlse skole lewer mense van statuur

http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1987/03/07/4/48.html

FOTO: KLEUR HET VERSKYN OP BLADSY 5 Deur ALIDA LA GRANGE DIE Paarlse skole is landwyd bekend. Dit is ook geen wonder nie as 'n mens in ag neem dat die eerste onderwyser, Jacob de Groot, reeds in 1700 in Drakenstein aangestel is. Van die dorp se skole het al talle ministers en Springbokke opgelewer en vandag nog sorg die rugby-interskole tussen die Hoër Jongenskool en die Hoërskool Gimnasium landwyd vir groot opwinding. Oud-leerlinge reis van tot Suidwes na die Paarl vir dié jaarlikse kragmeting. Die bekende Gimnasiumskool is in 1858 deur ds. G.W.A. van der Lingen gestig, onder meer omdat die openbare skole in die gebied (wat reeds sedert 1841 bestaan het) volgens hom nie genoeg aandag aan godsdiensonderrig gegee het nie en hy teen Engels as voertaal gekant was. Die skool is onder toesig van die kerk opgerig en mnr. T. Hoffman was die eerste skoolhoof. In 'n sekere mate kan dit as die grondlegging van Christelik-nasionale onderwys in die land beskou word. Die kerkraad het niks met die interne reëlings van die skool te doen gehad nie, maar geldelik 'n bydrae gemaak. Ds. Van der Lingen het 'n besondere voorliefde vir Hollands gehad en die onderwysers was hoofsaaklik Hollanders. Die skool het nooit 'n gebrek aan leerlinge gehad nie en sy uitslae was altyd goed. Ds. Van der Lingen het hardvogtig geweier dat Engels as voertaal - selfs in die onderrig van Latyn - toegelaat word, omdat hy bang was dat die departement van onderwys dalk seggenskap in die sake van die skool kon kry. Die kerkraad moes dikwels kollekteer en ds. Van der Lingen het groot somme geld uit sy eie sak opgedok om die skoolfonds gesond te hou. Die gimnasium het van 1886 af staatsondersteuning ontvang, maar die kerk het die geboue in stand gehou. In 1907 is die geboue aan die departement van onderwys verhuur en in 1917 het die departement dit gekoop. Dit huisves vandag die Laerskool Gimnasium. Die Hoërskool Gimnasium, wat in 1958 'n gemengde skool geword het, is op 'n ander terrein in Noorder-Paarl geleë . Die mooiste onlangse prestasie van dié skool met sy kleurryke geskiedenis is sekerlik die sestien leerlinge wat verlede jaar elk 'n A-gemiddelde in die Matriek-eindeksamen behaal het. Die rugbyspeler Schalk Burger, wat dalk vanjaar die WP se nuwe kaptein kan wees, was hier 'n leerling, sowel as die flank klein Schalk Burger. Nog bekendes wat hier leerlinge was, is mnr. Jan Pickard, voorsitter van die WP se Rugby-unie en adv. D.P. de Villiers. HJS Tien jaar ná die stigting van Gimnasium het mnre. W.H. Auret en J.S. Marais die voortou geneem om 'n ``eersteklas''- publieke skool in die Paarl opgerig te kry. 'n Eersteklas-skool was een wat vir 'n primêre en sekondêre kurses in een skoolgebou voorsiening gemaak het. Die Hoër Jongenskool Paarl, of Boys High soos dit ook bekend is, het so in 1868 in 'n pakhuis op Zeederbergplein ontstaan. Dit is gedoop Paarl First Class Public School en die eerste hoof was 'n eerw. Jeffreys, wat deur mnr. Josias Hoffman, later 'n geneesheer in die Paarl, opgevolg is. Aanvanklik het dinge moeilik gegaan en is 'n samesmelting met Gimnasium geprobeer, maar die voertaalkwessie het dit laat misluk. Die skool het teen 1876 net 70 leerlinge gehad, met verskeie knap onderwysers soos eerw. Thomas Walker van Edenburgh. Op 22 Oktober 1877 is besluit dat die seunskool, sowel as dié vir dogters, voortaan as die Paarlse Opvoedingsinstituut bekend sou staan en dat al die eiendom oorgeplaas sou word na die NG Kerk die Paarl, wat as trustee sou optree. Kort voor die einde van die eeu is die skool se naam in Jongens Hoogere School verander. Onder die leiding van mnr. P.J. du prê le Roux (1901-1924) het die HJS 'n baie geslaagde veldtog begin om seuns van die binneland te lok en verskeie koshuise is in gebruik geneem. Daar is op hierdie fondament voortgebou sodat die skool se prestasies op akademiese, kulturele en sportgebied vandag nog dien om seuns uit alle dele van die land na die Paarl te lok. Van die bekende Suid-Afrikaners wat hier leerlinge was, is mnr. Jim Fouché, gewese Staatspresident, oud-ministers Owen Horwood, Schalk van der Merwe en Fanie Botha, prof. Sonny du Plessis, 'n voormalige rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, David Frost, die gholfspeler, die rugbyspelers Carel du Plessis, Mannetjies Roux, Boy Louw en Chum Ochse (wat hier onderwys gegee het), mnr. Christo Wiese van Pep Stores en die politikus Japie Basson. Dan was die skrywers Eugène Marais en Karel Schoeman ook leerlinge, asook die TV-akteurs Ernst Eloff en Hennie Smit. Twee skoolhoofde, mnre. P.S. Meyer en Hugo Lambrechts, het albei Direkteur van Onderwys geword en mnr. Toets Fourie, wat verlede jaar as Direkteur van Onderwys afgetree het, was hier 'n onderwyser. LA ROCHELLE Die Hoër Meisieskool La Rochelle het ontwikkel uit 'n private skool wat in 1865 deur ene mev. Hugo gevestig is op die plek waar die Laerskool La Rochelle vandag is. In 1876 het die kerkraad van die gemeente Noorder-Paarl voldoen aan mnr. J. (Jan Orrelis) de Villiers se versoek om dit in 'n ``ladies seminary'' om te skep. Die kerkraad sou ook ondersteuning verleen aan behoeftige lidmate om hul dogters van 'n goeie opvoeding te voorsien. Dit is vandag een van die bekende meisieskole in die land en heelparty bekende vroue was hier leerlinge. Van hulle is mev. Tini Vorster, vrou van oud-premier John Vorster, Anne Mackenzie, Springbok-atleet, Sigrid Walters, junior atletiek-kampioen, Ester Lategan, onafhanklike kandidaat vir Stellenbosch in die Volksraadsverkiesing, mej. J.J Meyer, wat van 1921 tot 1947 hoof van die skool was en vandag 93 jaar oud is, Hettie Smuts, skryfster van 'n boek oor blommerangskikkings, mev. Kosie Uys, wat twee boeke oor borduurwerk geskryf het, die skryfster Alba Bouwer en Elsa Joubert. 'n Aantal TV-persoonlikhede soos Linda de Koning, Joey de Koker, June Seymour en Gretchen Holzapfel was ook leerlinge hier. In 1964 is 'n leerling, Mary Harrison, uit die hele land gekies om na die 300-jarige Shakespeare-fees in Engeland te gaan. Die skool het ook al vir heelparty uitblinkers op akademiese gebied gesorg. MEISIESKOOL Ene mej. Barker, dogter van eerw. George Barker van die Londense Sendinggenootskap, het omstreeks dieselfde tyd begin om onderrig aan meisies met Engels as voertaal te gee. Die leerlingtal het sodanig toegeneem dat 'n meisieskool in 1867 gestig is in die gebou wat sy gebruik het. Die skool is vandag bekend as die Hoër Meisieskool Paarl. Op akademiese gebied het die skool ook gepresteer, met Christine Basson, wat in 1959 en Susie Retief in 1917 eerste gekom het in die Matriek-eindeksamen in Kaapland. Bekendes wat hier leerlinge was, is die skryfster van godsdiensboeke vir kinders, Annieria Theunissen, Cynthia Horwood, suster van oud-min. Horwood en Mabel Jansen, vrou van die laaste goewerneur-generaal van Suid-Afrika. OKP In 1913 het die destydse superintendent-generaal van onderwys besluit om 'n opleidingsentrum vir onderwysers in die paarl op te rig. Die sentrum is amptelik in 1917 geopen en sy status is in 1927 verhoog na die opleidingskollege. Die Onderwyserskollege Paarl, beter bekend as OKP, het so ontstaan. HANDELSKOOL Die Hoër Handelskool Paarl het sy ontstaan te danke aan mense wat die behoefte besef het van die plattelandse kinders wat die skool vroeg reeds moes verlaat om 'n heenkome in 'n stedelike omgewing te vind. Aanvanklik was aandklasse die enigste uitweg. Die Helpmekaarvereniging het die grondslag vir die skool in 1929 gelê. Vandag is daar sewe hoër skole, wat die Hoër Landbouskool en die Hoërskool H.S. van der Walt insluit, en tien laer skole, asook die pre-primêre hospitaalskool.

No comments:

Post a Comment